17 Feb Windmeul pronk nou as die beste
Windmeul-wynkelder in die Agter-Paarl is onlangs deur die internasionale erkende en kritiese Tim Atken-verslag as die beste koöperatiewe wynkelder in Suid-Afrika bekroon. Die Windmeul-koöperatiewe kelder is in 1944 in die klein nedersetting in Agter-Paarl met dieselfde naam begin. Dié ontwikkeling het rondom die bekende destydse windmeul van die gebied plaasgevind.
Aanvanklik is wyn slegs vir brandewyn geproduseer en ’n skamele 1 400 ton
druiwe is gepars. Windmeul-kelder is aan die noordelike hange van die Paarlberg in die hartjie van die Paarl-wynlande geleë. Die keldermeester, Danie Marais, sê die prys wat die kelder van die Atkenverslag ontvang het, geweldig baie vir die aansien van die kelder beteken nasionaal én internasionaal. Destyds het koöperatiewe wynkelders die stigma gehad dat hulle net goedkoop- en stookwyn produseer. Hierdie stelling is ver van die waarheid verwyder. Danie vertel dat Windmeul-kelder 15 jaar gelede sy fokus verander het na wyne by uitstek. Volgens hom het hulle tóé al ’n nuwe sakeplan ontwikkel om net die beste gehaltedruiwe van hul lede te ontvang en kwaliteitwyne daarvan te maak.
“Ons verskaffers van Agter-Paarl, die Swartland en Wellington produseer goeie gehaltedruiwe. Dit is die kern van goeie wynproduksie.” Hierdie nuwe plan het duidelik vrugte afgewerp en Windmeul spog jaarliks met talle pryse. “Hoewel die kelder klem op die gewildste kultivars plaas, is ons pinotage en chenin blanc van uitstaande gehalte, juis ook weens die hoë gehalte van hierdie druiwe in die Agter-Paarl terroir,” sê Danie. In die geheel produseer Windmeulkelder vandag wyne van topgehalte vir alle smake. Danie voeg by dat ’n baie belangrike rol in die sukses van Windmeul-kelder ook die goeie verhouding tussen die personeel is. Tans is Wilhelm Dreyer die kelder se voorsitter, Albert Kotzé ondervoorsitter, Danie die keldermeester en Abraham van Heerden die wynmaker. Dié groep word bygestaan deur Berto Dippenaar en Anton Laas is die wingerdboukundige. Die kelder het vandag die kapasiteit om 15 000 ton druiwe te verwerk, wat in die vorm van 1 700 ha wingerd van die verskillende produserende lede geneem is. Windmeul-kelder bied wynproeë aan en spesiale geleenthede kan ook by dié kelder gereël word waar gaste met plattelandse gasvryheid en goeie diens verwelkom gaan word.